Numbi Geskiedenis

  Geskiedenis Leiers Aktiwiteite Fotos Kalender Algemene Inligting  

Die huidige skool het sy onstaan gehad toe dit met 30 leerlinge deur Dr. Vorster op 23 Januarie 1957 geopen het as Laerskool Kiepersol, op die terrein waar die huidige Hazyview Protea Hotel geleë is. Die eerste waarnemende hoof was Mnr. W.N. van Wyk. Mnr. D,.A. Oosthuizen is vanaf Januarie 1959 as hoof aangestel.

As gevolg van ’n gebrek aan ruimte en ook ’n tekort aan water, is die skool op 28 Julie 1959 na die vorige terrein, oorkant die Numbi Hotel, verskuif. Op daardie stadium was daar 52 leerlinge in die skool.

Aan die begin van 1962 is Mnr. E.T. Logie as waarnemende hoof aangestel en hy is in 1963 vervang deur Mnr. J.D. Leonard, wat toe in ’n permanente hoedanigheid aangestel is. Op 27 Julie 1965 is Mnr. R. Barnard as hoof aangestel. Op 14 Augustus 1968 is die skool se naam amptelik verander na Laerskool Numbi. Mnr. Barnard het die pos beklee tot aan die einde van 1980. Mnr. J.I. van der Merwe is toe aangestel as hoof en beklee hierdie pos tot in 2006 met sy aftrede. Mnr. A.S. Coetzee is vanaf 8 Januarie 2007 as nuwe skoolhoof aangestel.

Sedert die begin jare was daar ’n geleidelike styging in die getalle van die leerlinge. Dit kan toegeskryf word aan die ontwikkeling van die landbou wat vinnig toegeneem het. Sedert die tagtiger jare het Hazyview ook ’n gesogte toeriste aantreklikheid geword en het hier heelwat deeltitelskemas, asook vakansieoorde geopen.

Vanaf 1990 het die skool ongekende groei beleef en ’n leerlingtal van 220 leerlinge is bereik, wat die skoolgebou heeltemal te klein gelaat het. Die skoolsaal is toe onderverdeel in twee aparte klaskamers.

Groot was die vreugde toe die nuwe en huidige skoolterrein uiteindelik in Junie 1992 aan die kontrakteur oorhandig is om ’n permanente skool vir ons leerlinge toe bou. Die huidige skoolgebou is in Augustus 1993 betrek.

Tans beskik die skool oor 14 departementele onderwysposte, 3 beheerliggaamposte, 5 studente, twee administratiewe dames en 4 terreinwerkers. Daar is huidiglik 413 ingeskrewe leerders in die skool.

Oor die algemeen presteer die leerlinge van ons skool baie goed. Op sportgebied is hulle gereeld onder die voorstes in hulle onderskeie ligas. Op kulturele gebied maak hulle ook hulle merk soos jaarliks bewys word met die onderskeie aanbiedinge. Dit gebeur gereeld dat oud-leerlinge van heirdie skool in die hoërskool verkies word tot hoof-seun/dogter en lewer hierdie skool ook gewoonlik ’n aantal leerlingraadslede van die onderskeie hoërskole op.

Dit bly die strewe van die personeel van hierdie skool om aan elke kind die geleentheid te gee om hom/haar in sy totaliteit te laat ontwikkel sodat hy/sy eendag ’n goed gebalanseerde burger van die Republiek van Suid-Afrika kan wees.
This website is designed by Africwell ComputingHome Page